Hoekom huil jy?
Hoe moedeloos is jy op die plek waar jy nou is?
Ek wil verder reis met Hagar se verhaal oor die gedagte:
Soms moet ek GOD SIEN in my omstandighede.
Ek moet wegkyk van alles om my en net HOM SIEN;
sien dat Hy DAAR IS;
sien dat Hy MY SIEN.
Ander kere moet ek God IN MY OMSTANDIGHEDE SIEN.
Ek moet raaksien dat die antwoorde waarvoor ek roep tot God, reeds naby is.
In Gen.21 kry ons vir Hagar; sy sit in die woestyn en huil.
Abraham het haar met haar kind, ‘n brood en ‘n sak water weggestuur en sy het rondgedwaal in die woestyn Bersèba.
- Sy het nie ‘n veilige plek gehad nie
- Sy het nêrens behoort nie
- Haar lewe het niks beteken nie.
Sy het Ismael onder ‘n bos neergesit, ver weg gaan sit en gesê :”Ek wil die dood van die kind nie sien nie.”
Hagar is gefokus op die enorme, waterlose woestyn wat hulle lewe bedreig – dis al wat sy raaksien.
Hagar het nie net moed verloor nie, sy het HOOP verloor… HOPELOOS!
TONNELVISIE
In El Roi deel 1 & 2 het ek verduidelik wat gebeur met ‘n mens se oë wanneer jou senuweestelsel in oorlewings-modus gaan.
Jy ontwikkel TONNELVISIE – jy verloor jou vermoë om wyer te kyk.
As ek fokus op die probleem voor my,
verloor ek my vermoë om iets anders as die probleem raak te sien.
In Hagar se verhaal sien ons ‘n goeie voorbeeld van tonnelvisie.
Sy kyk so vas in haar probleem, dat sy ‘n paar dinge miskyk / vergeet.
- Sy VERGEET God het voorheen aan haar verskyn as El Roi, die God wat sien.
Hagar voel nie meer ‘gesien’ nie. Sy sien nie meer dat God sien nie. - Sy VERGEET El Roi het vir Ismael sy naam gegee –
Ismael beteken : GOD HOOR. - Sy VERGEET God wat sien en hoor, het vir Ismael geseën met ‘n belofte: ‘n groot nagelsag. Sy vergeet dat sy weet… Ismael gaan leef.
- Sy SIEN NIE dat ‘n bos in die woestyn moontlik water in die omgewing beteken nie.
- Sy SIEN NIE die put nie. Sy was nie by ‘n fontein (soos in Gen.16) nie. Sy was by ‘n put in die woestyn – ‘n put was ‘n waterbron wat reeds deur mense ontgin was – daar was mense naby.
v.19 ‘Daarop het God haar oë geopen, en sy sien ‘n put! Sy het geloop en die sak vol water gemaak en die seun laat drink.’
Dalk is dit vandag tyd om jou trane af te vee en te ONTHOU WIE IS GOD…
Gaan terug na die ontmoetingspunte met HOM op jou lewenspad…
onthou WIE HY IS… onthou Sy beloftes aan jou.
Dalk moet jy vandag om jou te kyk en SIEN…
SIEN jou antwoord is nog die hele tyd baie naby aan jou –
jy is dalk so gefokus op die probleem dat jy nie die oplossing sien nie.
Vra God om jou oë oop te maak en vir jou ‘the well of the vision of life’ te wys.
Skryf LIG!
El Roi : 4 Hoekom huil jy? … SIEN GOD!
Geskryf deur Marinda de Jager – marinda@lightwriter.co.za
Hoekom huil jy?
Wat is dit met jou?
Hagar se twee ontmoetings met God (Gen.16 en Gen.21) is terselfdetyd eenders en anders.
Gen.21:17 ‘Toe hoor God die stem van die seun, en die Engel van God het na Hagar geroep uit die hemel en haar gevra: Wat is dit met jou, Hagar? Wees nie bevrees nie, want God het na die stem van die seun geluister op die plek waar hy is.’
Die woorde van die Engel van die HERE by die twee geleenthede het my opgeval.
Eerste keer: ‘Waar kom jy vandaan en waar gaan jy heen?’
Hagar moes GOD SIEN- Hy openbaar Homself aan haar as El Roi,
die God wat sien…
en SY HET HOM GESIEN as die God wat haar sien en hoor en seën.
Tweede keer: ‘Wat is dit met jou, Hagar?’
Dis asof hierdie gehuil van haar nie sin maak nie.
“Hagar, jy weet dan Hy is El Roi… jy het HOM gesien as die Een wat sien,
jy het Sy NAAM genoem… die een wat sien – hoekom huil jy?”
Hy sê ook: “Ek het die stem van die seun gehoor”…nie Hagar se gehuil nie.
Dink vandag terug aan die waterput-oomblikke op jou lewenspad – daar waar God Homself aan jou openbaar het. Dit wat reeds van God aan jou geopenbaar is, kan nie weer ‘geopenbaar’ word nie. ‘OPENBAAR’ beteken dis oopgemaak en gesien.
God gaan heel moontlik nie hierdie keer op dieselfde manier vir jou opdaag nie.
Glo vandag wie GOD IS – wie Hy vir jou gewys het HY IS.
Glo dat God SIEN en begin na jou omstandighede kyk asof die antwoord op jou gebede lankal daar vir jou lê om raakgesien te word.
Skryf LIG!